top of page

Skoolgeskiedenis

1975

 

Op 12 Mei, begin WH de Klerkskool  met drie onderwysers nl: Mnr. AE Lancaster as waarnemende hoof en twee assistente, Me. MR Coetzee en Me. EL Meyer. Die skool begin in die geboue van die "Onderwys Hulpsentrum" - tans die kantore van die Mpumalanga Onderwys Departement.

​

Op 13 Mei, word 83 leerders ingeskryf by WH de Klerkskool. Die skool sluit daardie jaar met 41 dogters en 66 seuns. Die personeel bestaan uit sewe skolastiese-, twee instrukteur-onderwysers en twee administratiewe personeel.

1976

 

Op 7 Januarie, open die skool met 'n totaal van 185 leerders. Die skool se eerste hoofseun, Christiaan Broodryk en hoofmeisie, Rene Waltons word verkies.

 

Op 17 Februarie, tydens die eerste Adviesraadsvergadering, word Ds. TA Liebenberg as voorsitter verkies en beklee hierdie amp tot Maart 1995.

 

Mnr. PW Brewis word op 11 Mei as permanente hoof van WH de Klerkskool aangestel.

1984 - 1989

​

​Op 6 Februarie word die nuwe skoolgeboue ingehuldig en met die hulp van die gemeenskap, uitgebrei en verfraai tot 'n trots van die omgewing. Leerders plant self die gras op die sportvelde en grawe gate vir die plant van inheemse bome.

​​

Op 15 September word 406 bome op die terrein geplant.

WH_De_Klerk_Skool_History_Build4.jpg

1994 - 2006

​

Op 1 Januarie, word Mnr. SF Robinson aangestel as die nuwe hoof na die aftrede van Mnr. PW Brewis. Gedurende hierdie tydperk  vind verskeie veranderings plaas.

​

 

As gevolg van stygende leerdergetalle, word daar twee nuwe seunssentrums gebou, nl. Elektrisiënswerk en Sweis. Nuwe toilette word ook by die sportvelde gebou, asook 'n snoepie.

2012 - 2014

​

Gedurende Oktober word 'n behuisingsprojek vir die skool deur die beheerliggaam goedgekeur.

​

Na 35 jaar in die onderwys en 20 jaar as hoof van WH de Klerkskool, tree Mnr. SF Robinson op 31 Desember as die skoolhoof af. Die skool groei tot 645 leerders en 48 onderwysposte. Gedurende hierdie tydperk het Mnr. Robinson die skoolleuse "Wat ek het, gee ek" uitgeleef as hoof vir die skool.

​

Vier meenthuise word aan die einde van 2014 en die begin van 2015 gebou.

2015

​

Mnr. CH Rootman word as die derde skoolhoof van WH de Klerkskool aangestel. Die skool beweeg in die jaar van 'n reëlgedrewe na 'n waardegedrewe skool met die ondersteuning van die personeel, leerders en ouergemeenskap. Die jaar word gekenmerk deur die behoud van vaste waardes, maar ook die ontplooiing van nuwe waardes.

2015 - 2018

​

Van 2015 tot 2018 word daar elke jaar op 'n waarde gefokus. In 2015 is die fokus op die waarde, "Omgee", in 2016, die waarde, "Verantwoordelikheid", in 2017 die waarde ,"Betroubaarheid" en in 2018 die waarde, "Regverdigheid".

​

Die jaar 2018 is die begin van 'n nuwe fase in LSOB-onderwys. Die nuwe Tegniese Beroepsgerigte kurrikulum word in ons skool aangebied. Nuwe vakke word by die kurrikulum gevoeg: Skeppende Kunste en Vroeë Kinderontwikkeling.

Nuwe klaskamers word gebou om beroepsgerigte vakke vir die seuns aan te bied, asook 'n rekenaarsentrum om die vak Inligting en Kommunikasie Tegnologie (IKT) aan te bied. Die kombuis vir voedselproduksie word opgegradeer en 'n klaskamer vir die vak word ook gebou. Vir die vak Vroeë Kinderontwikkeling word twee klaskamers gebou.

2019

​

Die leerdergetal staan op 664 hierdie jaar met 77 personeellede. Emosionele ondersteuning aan leerders word versterk deur die implementering van ‘n maatskaplike afdeling onder die Ondersteuningsdiens. Die voedingskema, klerebank en uBunthu-projek word verstewig en brei uit. Die Onderwysdepartement se voorgestelde Tegniese Beroepsgerigte Kurrikulum (TOC) word geloods. Die waardegedrewendheid van die skool word versterk deur die fokus op die waarde, Respek, te plaas. Die skool se sporthuis, die Chris Rootmanklubhuis, word gebou om die sosiale byeenkomste na sportgeleenthede te akkommodeer.

2020 - 2021​

​

Gedurende 2020 staan die leerdergetalle op 676 leerders. Die COVID-pandemie het soos ‘n dief in die nag die hele wêreld oorrompel met vrees, angs en onsekerheid. Mense word gedurende die tydperk gedwing om in afsondering en inperking te leef. Wêreldwyd sluit al die skole vir ongeveer drie maande, waarna die leerders die skool op ‘n rotasiebasis bywoon. Alle buitemuurse aktiwiteite is gestaak. Zoom-vergaderings is aan die orde van die dag om die funksionaliteit van die skool te verseker. WH de Klerkskool implementeer ‘n nuwe komitee onder die Skoolgebaseerde Ondersteuningspan (SGOS), naamlik die "Disaster and Safety"-komitee, wat noodmaatrëels en beleide ontwikkel om veiligheid in die skool te verseker. 

 

Op 26 Julie is die leerders voltallig terug by die skool. Gedurende die tydperk neem die skool afskeid van drie personeellede wat aan die dood afgestaan word. ‘n Donker, onseker tyd, ook vir WH de Klerkskool.

2022

​

Buitemuurse aktiwiteite begin weer in volle swang. Die Anti-Boelie-program kry gestalte onder die Waardekomitee se leiding. Die program verseker volle betrokkenheid en skep ‘n groot, blywende impak om dié kwessie daadwerklik aan te spreek. Hierdie program sal jaarliks gevolg word om die leerders te bemagtig om dié sosiale tendens hok te slaan.

2023

​

Met die aanvang van die jaar styg die leerdergetalle tot 698. Met die aanstelling van ‘n dissiplinêre beampte, betree die skool ‘n nuwe era ten opsigte van dissipline. 

 

Die "WOW"-komitee (World Of Work), onder die SGOS, versterk hul funksie rakende verdere opleiding en werksplasing deur ‘n vennootskap met IPP-mynbou te vorm. Gedurende vakansies bied IPP-mynbou addisionele kursusse in toepaslike opleidingsvelde aan vir die Jaar 4-leerders.

 

Aan die einde van die jaar bied hul studiegeleenthede en beurse aan geselekteerde Jaar 4-leerders. Dogterskrieket word vir die eerste keer in die skool se geskiedenis aangebied.

2024

​

Die jaar word ingelei met oorvol klasse en ‘n leerdergetal wat op 715 staan. Die Onderwysdepartement loots die ‘GEC Integrated'-projek (IP) vir Jaar 4-leerders in Vaardigheidskole. Die projek is geskoei op die Tegniese Beroepsgerigte Kurrikulum (TOC). Dit is die eerste jaar dat die skool landsdiens as ‘n buitemuurse aktiwiteit aanbied. Verskeie gemeenskapsuitreikprojekte word onderneem. Die waarde, Omgee, word sodoende prakties en sinvol uitgeleef.

DSC_7744.jpg

2025

​

WH de Klerkskool vier hierdie jaar sy halfeeu-bestaansjaar. Die Klerkie Goue Fees vind plaas op 27 September om hierdie geleentheid te vier.

​

Die vak Kantooradministrasie word vir die eerste keer by die skool aangebied

bottom of page